Mikotoksiene – natuurlike (maar ongewenste) kontaminante onder die vergrootglas

Mikotoksiene – natuurlike (maar ongewenste) kontaminante onder die vergrootglas

Mikotoksiene is natuurlike kontaminante wat deur swamme geproduseer word en wêreldwyd in graangewasse en oliesade aangetref word. Die chemiese verbindings is baie stabiel; as dit eers gevorm het, word dit nie maklik vernietig nie. Spesifieke mikotoksiene word deur verskillende fungi geproduseer.

Aflatoksien B1, een van die bekendste mikotoksiene, veroorsaak kanker by mense en lewersiektes by diere. Verskeie gevalle is aangeteken waar blootstelling aan voedsel met te hoë hoeveelhede aflatoksien B1 dodelik vir mense was. Aflatoksiene word hoofsaaklik in mielies en grondbone gevind. Deoksinivalenol, ook bekend as vomotoksien, kom hoofsaaklik in mielies, koring en gars voor. Fumonisiene is nog ’n groep mikotoksiene wat hoofsaaklik in mielies, sorghum en gars aangetref word. Okratoksien A word hoofsaaklik tydens die opberging van graan deur verskillende swamme geproduseer. Die voorkoms van zearalenoon word wêreldwyd toenemend waargeneem in mielies, koring, sorghum en gars. Van die mikotoksiene is snellers vir lewer- en niersiektes en kankergewasse en voortdurende blootstelling aan hoë vlakke gekontamineerde verwerkte voedsel en finale voerprodukte is ’n groot risiko vir voedselveiligheid.

Waar word mikotoksiene aangetref?

Mikotoksienkontaminasie kom in die hele voedselketting voor. Dit vorm in die gewasse op die landerye, want swamme word oral in die omgewing aangetref. Plantbesmetting van die swamme word aangehelp deur moontlike fisiese beskadiging van die gewasse deur insekte en voëls. Sodra die omgewingstemperatuur en vog gunstig is, produseer die verskillende fungi baie spesifieke mikotoksiene. Resultate van navorsingsprojekte het aangetoon dat sekere landboupraktyke en keuse van kultivars ook ’n rol speel in ’n verhoogde swambesmetting en gevolglike produksie van mikotoksiene.

Tydens opberging van die gewasse kan meer of ander mikotoksiene geproduseer word, daarom is die beheer van die temperatuur en vog tydens opberging noodsaaklik. Omdat die swambesmetting gewoonlik net in dele van die landerye en net op sekere graankorrels of bone of pitte voorkom, is die mikotoksiene nie deur die hele besending graan versprei nie en word daar na “hot spots” verwys.

Regulasies vir toelaatbare vlakke en meting

Mikotoksiene word nie vernietig met die verwerking van hierdie gewasse by meulens en veevoerproduksie-aanlegte nie, daarom is daar wêreldwyd regulasies met verskillende maksimum toelaatbare vlakke vir hoofsaaklik aflatoksien B1, fumonisien B1 en B2, deoksinivalenol en okratoksien A. Suid Afrika het sedert 2004 ’n regulasie (Wet 54) vir ’n maksimum toelaatbare vlak van 5 µg/kg vir aflatoksien B1 vir alle voedsel vir menslike gebruik. In September 2016 is hierdie regulasie uitgebrei vir fumonisien B1 en B2 in mielies (4 000 µg/kg), in verwerkte produkte (2 000 µg/kg), deoksinivalenol in graangewasse (2 000 µg/kg) en verwerkte produkte (1 000 µg/kg). Daar is ook ’n Suid-Afrikaanse regulasie (Wet 36) vir maksimum toelaatbare vlakke vir verskillende mikotoksiene in finale veevoerprodukte.

Om voedselverliese te beheer en die langtermynblootstelling aan hierdie toksiese verbindings te vermy, is dit belangrik om te weet of die graan wat geproduseer of opgeberg is, wel gekontamineer is, watter mikotoksiene teenwoordig is en of die konsentrasievlakke skadelik is. Vir die bepaling van die mikotoksienvlakke het die SAGL ’n metode ontwikkel om die 13 belangrikste mikotoksiene met een analise in graan, oliesade en verwante verwerkte produkte te meet. Daar is ’n verskeidenheid vinnige meettegnieke ontwikkel wat deesdae selfs in nielaboratoriumomgewings as ’n eerste sifting vir aflatoksiene, deoksinivalenol en fumonisiene in graangewasse gebruik kan word.

Mikotoksienvlakke in plaaslik geproduseerde mielies en koring

Met die bydrae van die Agbiz Grain-lede wat die mielie- en koringoesmonsters jaarliks by produsente se graanlewerings insamel en met befondsing van die SA Mielie- en Wintergraantrust vir die oeskwaliteitprojekte het die SAGL die mikotoksienvlakke die afgelope nege jaar gemeet. Verrassende resultate is verkry. Net deoksinivalenol (DON) is in koring gevind, met ’n lae besmetting in verskillende seisoene. Die hoogste DON-konsentrasie in ’n enkele monster was slegs 593 µg/kg – ver onder die regulasievlak van 2 000 µg/kg.

In die geval van mielies wat kommersieel verbou word, is geen verband tussen die graad van die mielies, die mikotoksienkontaminasie en die konsentrasievlakke in die besending gekry nie. Feitlik geen aflatoksien B1 is in die afgelope nege seisoene in mielies gevind nie – slegs in drie mieliemonsters. Fumonisiene, deoksinivalenol en zearalenoon is bevestig as die belangrikste mikotoksiene in Suid-Afrikaanse mielies, en groot seisoenale variasies in die voorkoms en konsentrasievlakke in die verskillende produksiestreke is gerapporteer. Ongeveer 45 tot 55% van die mielies is met fumonisiene gekontamineer. Alhoewel die gemiddelde fumonisienkonsentrasies in die verskillende produksiestreke heelwat laer was as die regulasiewaarde van 4 000 µg/kg, is mieliebesendings in verskillende streke en seisoene met fumonisienkonsentrasies ver bo die toelaatbare vlak gelewer. Die hoogste kontaminasie, 34 740 µg/kg, is in 2018–2019 in geelmielies gerapporteer.

’n Toename in die voorkoms van DON is die afgelope vier jaar in verskillende produksiestreke in beide wit- en geelmielies gerapporteer en DON-vlakke hoër as 2 000 µg/kg is in 4 tot 8% van die witmielies en 1% van die geelmielies gerapporteer. Meer gedetailleerde resultate is in die SAGL se oeskwaliteitverslae gepubliseer (www.sagl.co.za).

Bestuur en beheer van mikotoksienkontaminasie

Daar is voorspel dat klimaatsveranderinge reeds tot die verandering in die mikotoksien verspreidingspatrone en kontaminasievlakke wêreldwyd bydra. Resultate van navorsingsprojekte in Suid-Afrika, wat ook finansieel deur die trusts ondersteun word, help om die bestuur en beheer van mikotoksiene beter te verstaan.

Die moniteringsresultate help elke sektor in hierdie voedselketting om voorkomend op te tree om die kontaminasie te probeer vermy of te verminder. Tydens graanproduksie speel die landboupraktyke, rotasiestelsels van gewasse, keuse van kultivars, gebalanseerde bemesting en die oestyd ’n groot rol. Die bestuur van korrekte opbergingspraktyke soos deurlugtiging, beheer van vog en temperatuur is noodsaaklik. Met die vervaardiging van verwante voedselprodukte is dit belangrik dat meulenaars die kontaminasievlakke meet vir sinvolle vermenging voor vermaling. Die gebruik van binders in finale voerprodukte word aangemoedig.

Mikotoksiene gaan altyd die spreekwoordelike naald in die hooimied bly. Die variasies en tendense bevestig die noodsaaklikheid van voorkomende maatreëls en volgehoue monitering van die mikotoksienvlakke deur al die rolspelers.

Author:

Hannalien Meyer

Quality overview of the 2020 maize crop

A total of 890 composite samples, representing white and yellow maize of each production region, were received and analysed to determine their quality. The samples consisted of 516 white and 374 yellow maize samples.

READ MORE →