Kwaliteitsresultate van 2016/’17 se Koringoes

img-2

Altesaam 337 koringmonsters wat 24 van die graanproduksiestreke verteenwoordig is deur die SA Graanlaboratorium ontvang en ontleed vir die kwaliteitsontleding van die 2016’17-koringoes. Kommersiële graanopbergers het 316 monsters geneem en in gestuur en 21 monsters was direkte lewerings aan koringmeulens. 

  • Die nasionale gemiddelde heelkoringmeelproteïen-inhoud was 12,0% en is die tweede hoogste gemiddeld sedert die 2010/’11-seisoen.
  • Die Vrystaat se koring het die hoogste gemiddelde proteïen-inhoud van 14,3%, gehad, gevolg deur die besproeiingstreke (12,3%) en die Winterreënstreke (11,4%).
  • Die gemiddelde hektolitermassa was effens hoër as in die vorige seisoen.
  • Duisendkorrelmassa het toegeneem.
  • Die gemiddelde valgetal was 356 sekondes.
  • Die gemiddelde mixogram-piektyd van 2,7 minute was binne die voorkeurtyd van bakkers.
  • Die 100 g bak-evaluasie het getoon dat die verhouding tussen die broodvolume en proteïen-inhoud uitstekend is.
  • Vier van veertig monsters wat die produksiestreke en grade verteenwoordig, het mikotoksien-residue getoon. Die vlakke was egter steeds aansienlik laer as voorgeskrewe nasionale en internasionale maksimumvlakke.

Die monsters is gegradeer volgens die jongste nasionale graderings-regulasies soos dit in die Staatskoerant, Goewermentskennisgewing No. R. 64 van 29 Januarie 2016 gepubliseer is. Graad B1 is aan 39% van die monsters toegeken, Graad B2 aan 27%, Graad B3 aan 10% en Graad B4 aan 8% van die monsters. Utiliteitsgraad en Klas Ander Koring het onderskeidelik 14% en 2% van die monsters verteenwoordig. 

Van die monsters afkomstig uit die Vrystaat is 71% as Graad B1 gegradeer, teenoor die 52% in die vorige seisoen. Van die besproeiingsgebiede se monsters is 52% as Graad B1 gegradeer (60% verlede seisoen). Graad B1 het 22% van die suidelike produksiestreke (Winterreëngebied) se monsters verteenwoordig, in vergelyking met 37% in die vorige seisoen. 

Tabel 1: Broodkoring se graderingstabel.

Kwaliteitsresultate van 2016'17 se koringoes 1

Die meerderheid monsters wat na Utiliteitsgraad afgegradeer is, was as gevolg van óf die persentasie sifsels óf die persentasie ander graan en ongedorste are tesame met die persentasie gesamentlike afwykings, wat die maksimum toelaatbare vlakke vir grade B1 tot B4 oorskry het (Tabel 1). 

Sifsels beteken alle materiaal wat deur standaard gleufsif van 1,8 mm gaan, terwyl ‘n goed gemengde monster van minstens 500 g (maar nie meer as 800 g nie) gesif word met 50 stote heen en weer, beurtelings weg en terug van die gradeerder. Dit is baie belangrik dat die siftoets op ‘n stewige, gladde oppervlak uitgevoer word en dat die sifbeweging in dieselfde rigting as die lengte-asse van die sifopenings plaasvind.

Al die gemiddeldes waarna in hierdie artikel verwys word, is geweegde gemiddeldes.

Per definisie beteken ander graan korrels of stukkies korrels van gars, hawer, korog (triticale), mielies, rog en sorghum. Are en dele van are van koring, gars, korog en rog wat nog korrels bevat wat ten volle met blomkaffies bedek is, word as ongedorste are beskou. Die meerderheid monsters wat die maksimum toelaatbare vlak vir ander graan en ongedorste are oorskry het, was uit die Winterreëngebied afkomstig. 

Die nasionale gemiddelde heelkoringmeelproteïen-inhoud van 12,0% is die tweede hoogste gemiddeld sedert die 2010/’11-seisoen en 0,8% laer as die 12,8% van verlede seisoen, wat die hoogste gemiddeld was sedert die 2004/’05- seisoen. Die tienjaar geweegde gemiddeld is 11,8%. Proteïen-inhoud word oor die algemeen beïnvloed deur die omgewing (grond en klimaatstoestande) waar die koring geplant is en die kunsmisbehandeling. Die produksiestreke in die Vrystaat het die hoogste gemiddelde proteïen-inhoud gehad, naamlik 14,3%, gevolg deur die besproeiingstreke met 12,3% en die Winterreënstreke met 11,4%. Hierdie seisoen se meelproteïengemiddeld was 11,2% in vergelyking met verlede seisoen se 11,8%. Proteïen-inhoud word op ‘n vogbasis van 12% gerapporteer. 

Die gemiddelde hektolitermassa was 81,5 kg/hl, wat effens hoër is as die 81,1 kg/hl van verlede seisoen. Die sewejaargemiddeld van monsters waarvan die hektolitermassa met behulp van die Kern 222-instrument bepaal is, is 80,6 kg/hl. Slegs 4% van die monsters se hektolitermassa was laer as die minimumvereiste vir Graad 1, naamlik 77 kg/hl. Drie van hierdie monsters het hulle oorsprong gehad in die Winterreënstreke, een elk in die besproeiingstreke van die Noord-Kaap en Noordwes en die oorblywende agt monsters uit die Vrystaatstreke.

Die resultate van die 19de jaarlikse kwaliteits opname van die koringoes is beskikbaar op die SA Graanlaboratorium se webtuiste www.sagl.co.za. Die 2016/’17-koringoeskwaliteitverslag is ook elektronies beskikbaar in ‘n PDF-formaat.

Duisendkorrelmassa, gerapporteer op ‘n vogbasis van 13%, het toegeneem van 36,8 g verlede seisoen tot 38,6 g hierdie seisoen. Dit stem goed ooreen met die 38,8 g van 2014/’15. Die gemiddelde persentasie sifsels van 1,86% is hoër as verlede seisoen en ook die hoogste sedert die 2003/’04-seisoen. 

Die valgetal was gemiddeld 356 sekondes. Slegs vier monsters het valgetalwaardes laer as 250 sekondes gehad en hiervan was twee monsters se valgetalle laer as 220 sekondes (minimum vir Grade B1 tot B3). Hoë persentasies uitgeloopte korrels is waargeneem by die twee monsters met valgetalwaardes onder 220 sekondes. Al vier monsters was uit die Vrystaatstreke afkomstig. Alle valgetalwaardes word aangepas vir die hoogte bo seevlak waarby die ontleding uitgevoer word. Suid-Afrika ondervind oor die algemeen minimale probleme met lae valgetalwaardes, tensy laat reën kort voor of tydens strooptyd voorkom.

Kwaliteitsresultate van 2016'17 se koringoes 2

Voorbeelde van ander graan en ongedorste are in ‘n monster. Die meerderheid monsters wat na Utiliteitsgraad afgegradeer word, was as gevolg van die persentasie sifsels of die persentasie ander graan en ongedorste are of die persentasie gesamentlike afwykings.

Kwaliteitsresultate van 2016'17 se koringoes 3

Grafiek 1: Persentasie monsters per klas en graad in die 2016/’17 seisoen.

Die gemiddelde mixogram-piektyd van 2,7 minute was dieselfde as verlede seisoen en effens laer as die tienjaargemiddeld van 2,9 minute. ‘n Piektyd van tussen 2,5 en 3,5 minute word oor die algemeen deur Suid-Afrikaanse bakkers verkies. Die mixogram-piektyd of mengtyd is ‘n aanduiding van die hoeveelheid tyd benodig om die deeg tot by die punt van optimale ontwikkeling te meng. Deeg wat optimaal ontwikkel is het die perfekte balans tussen uitrekbaarheid en kohesiwiteit en lewer die beste kwaliteit brood. Onder- en oorvermengde deeg lei tot swak kwaliteit brood, wat sowel die volume as die krummelstruktuur en tekstuur betref.

Die gemiddelde ekstraksie, verkry met die Bühler MLU 202-laboratoriummeule, was 72,5% in vergelyking met die 73,4% van die vorige seisoen. Die meelkleur, wat op beide die Kent Jones- en Minolta CM-5-instrumente bepaal is, het goed ooreengestem met vorige seisoene. Die meel se as-inhoud, bereken op ‘n droë basis, was effens laer as in 2015/’16. 

Beide die nat (30,7%) en droë (10,5%) glutenwaardes op ‘n 14% vogbasis was laer as dié van verlede seisoen, wat te wagte was aangesien die proteïen-inhoud laer is. Die verhouding tussen die nat gluten-inhoud en totale proteïen-inhoud is gewoonlik tussen 2,5 – 2,8 tot 1. Die nasionale 2016/’17-waarde is 2,7. Gluten-indekswaardes het gewissel tussen 63 tot 99, met ‘n gemiddeld van 94. Hierdie indeks verskaf ‘n aanduiding van die glutensterkte (hoe hoër, hoe beter) en word nie deur die proteïen-inhoud beïnvloed nie.

Reologiese deegeienskappe, wat met behulp van die Farinograaf, Alveograaf, Ekstensograaf en Mixograaf bepaal is, word gebruik om deeg se gedrag tydens vermenging en prosessering te voorspel, asook die eienskappe se invloed op die kwaliteit van die finale produk. Wanneer na koringkwaliteit verwys word, word na die proteïenkwaliteit en dus indirek na die glutenkwaliteit verwys. Gluten is die proteïenfraksie wat koringmeel se deeg- en bakeienskappe bepaal. Die voorafgenoemde reologiese eienskappe hou verband met die kwaliteit van die gluten en die glutennetwerk wat tydens die meng van deeg ontwikkel word. 

Deeg met swak kwaliteit ontwikkel vinnig en het ‘n lae energie-insetbehoefte, terwyl deeg met sterk kwaliteit langer neem om te ontwikkel en ‘n hoër energie-inset benodig. Goeie kwaliteit word gekenmerk aan hoër waterabsorpsies (as gevolg van beter waterbindingsvermoë), langer mengtye en stabiliteite op die farinogram en hoër sterktes op die alveogram en ekstensogram. Die deeg se rekbaarheid moet ook voldoende wees vir ‘n goeie broodvolume. 

Die farinogram-waterabsorpsie (14% vogbasis) was 60,1%, effens laer as in 2015/’16 en die ontwikkelingstyd van 5,2 minute was 0,6 minute korter. Die stabiliteit (8,3 minute) het goed vergelyk en was 0,3 minute langer. Die alveogram-sterkte was 37,0 cm2 en die P/L-waarde 0,57. Hoewel effens laer, vergelyk die sterkte goed met dié van die vorige seisoen. Die rekbaarheid (L-waarde) het toegeneem, terwyl die stabiliteit (P-waarde) effens afgeneem het. ‘n Kombinasie van dié faktore verklaar die verlaging in die P/L-waarde ten opsigte van verlede seisoen se gemiddelde waarde. 

Die gemiddelde ekstensogramsterkte was 99 cm2 in vergelyking met die 105 cm2 verlede seisoen. Beide die maksimumhoogte en rekbaarheid het goed ooreengestem met dié van die 2015/’16 seisoen. 

Die 100 g bak-evaluasie het getoon dat die verhouding tussen die broodvolume en proteïen-inhoud uitstekend is. 

Al die gemiddeldes waarna in hierdie artikel verwys word, is geweegde Gemiddeldes. 

Veertig monsters, geselekteer om die verskillende produksiestreke en grade te verteenwoordig, is vir die teenwoordigheid van mikotoksien-residue getoets. Dié toetse is met ‘n UPLC-MS/MS-instrument en ‘n SANAS ISO/IEC 17025 geakkrediteerde multi-mikotoksienmetode uitgevoer. Vier monsters het positief vir Deoksinivalenol (DON) -residue getoets. Die gemiddeld van hierdie vier positiewe waardes was 289 μg/kg, met die hoogste waarde 501 μg/kg. Hierdie vlakke is egter steeds aansienlik laer as voorgeskrewe nasionale en internasionale maksimumvlakke. 

Dit is belangrik dat die monitering van mikotoksienvlakke jaarliks gedoen word, aangesien die teenwoordigheid en vlak van verteenwoordiging van swamme en mikotoksiene van seisoen tot seisoen kan verskil. 

Die bepaling van aminosuurprofiele, wat 18 verskillende aminosure insluit, is hierdie seisoen vir die eerste keer as deel van die opname ingesluit. Die profiele van veertig monsters, wat verskillende grade en produksiestreke verteenwoordig, is bepaal. Aminosure is die boublokke van proteïene en is uiters noodsaaklik vir goeie gesondheid vir beide mens en dier. Vir meer besonderhede wat betref die resultate, verwys asseblief na die 2016/’17 koringoeskwaliteitverslag.

Kwaliteitsresultate van 2016'17 se koringoes 4

‘n Personeellid van die Graanlaboratorium besig om meel en water te meng tydens die uitvoering van die valgetalontleding.

Kwaliteitsresultate van 2016'17 se koringoes 5

Deeg word gerek tydens die uitvoering van die Ekstensograaf-metodiek.

Oorsig van produksie en invoer

Tydens die 2016/’17-seisoen is 1,910 miljoen ton koring verbou. Dit is 32,6% meer as in die vorige seisoen wat erg onder droogte gebuk gegaan het. Die Wes-Kaap se Winterrëenstreke het 57,5% tot die totale oes bygedra. Die Vrystaat se produksiesyfer was die hoogste in die afgelope vier seisoene. 

Die oppervlakte vir koringaanplantings het met 5,4% toegeneem tot 508 365 hektaar. Opbrengs het gewissel van 2,80 ton/ha in die Vrystaat tot 7,60 ton/ha by besproeiingskoring in die Noord-Kaap. Die nasionale gemiddelde opbrengs het toegeneem van 2,99 ton/ha in die vorige seisoen tot 3,76 ton/ha.

Volgens statistiek van die SA Graaninligtingsdiens is 688 161 ton koring tot en met 28 Julie 2017 vir plaaslike gebruik ingevoer. Dit verteenwoordig 40% van die hoeveelheid koring wat in die ooreenstemmende tyd verlede jaar ingevoer is. Die grootste hoeveelheid koring is van Duitsland af ingevoer, gevolg deur die Russiese Federasie en die Tjeggiese Republiek. Gedurende die 2015/’16-seisoen is ‘n totaal van 2,063 miljoen ton koring ingevoer.

Vir meer inligting wat betref die kwaliteit van ingevoerde koring oor seisoene, besoek gerus SAGL se webtuiste by www.sagl.co.za.

Erkenning

Met dank aan die Wintergraantrust vir volgehoue finansiële steun van die jaarlikse opnames, asook aan lede van Agbiz Grain en meulenaarsmaatskappye vir die neem en instuur van verteenwoordigende koringmonsters.

Author:

Jolanda Nortjé

Laboratory Manager, Southern African Grain Laboratory

Quality overview of the 2020 maize crop

A total of 890 composite samples, representing white and yellow maize of each production region, were received and analysed to determine their quality. The samples consisted of 516 white and 374 yellow maize samples.

READ MORE →