Evaluering en vrystelling van nuwe broodkoring kultivars in die afgelope drie jaar

In die afgelope drie jaar is 21 nuwe graan kultivars vir die verskillende produksiegebiede vrygestel, wat ‘n aanduiding van die sukses van die evaluering- en vrystellingstelsel van genetika in Suider-Afrika is. Die proses om tot by vrystelling te vorder, is egter deeglik en duur verskeie seisoene. Jolanda Nortjé, laboratoriumbestuurder van die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium NPC, verduidelik hoe die proses verloop.

Die beskikbaarheid van koringkultivars wat  agronomies goed presteer en terselfdertyd aan kwaliteitsvereistes voldoen, is twee faktore wat die volhoubaarheid van die koringbedryf in Suid-Afrika bepaal. Die graanbedryf se vereistes sluit kwaliteite ten opsigte van vermalings, reologiese (deeg) en bakeienskappe in. Die toepassing van absolute kwaliteitswaardes vir die vrystelling van nuwe koringteellyne is onprakties omdat reënval, klimaat, omgewingsinteraksies en bewerkingspraktyke alles ‘n effek op graankwaliteit het. Wanneer nuwe teellyne geëvalueer word, word kommersiële kultivars gevolglik as biologiese kwaliteitstandaard en verwysingsraamwerk gebruik. Drie kultivars word as kwaliteitstandaard in die verskillende produksiegebiede gebruik. Dit is Elands in die Noordelike Droëlandproduksiegebiede, SST 027 in die Suidelike Droëlandproduksiegebiede en SST 806 in die Besproeiingsgebiede.

Vir SST 027 word ‘n proses gevolg om dit te vervang. Twee jaar se kwaliteitsresultate van potensiële nuwe standaarde is reeds beskikbaar. Sodra die 2020/21-seisoen se resultate beskikbaar is, kan ‘n besluit oor SST 027 tydens die Koringforum se vergadering van die Kultivar- en Tegniese komitee gefinaliseer word. Dié vergadering word vir April 2021 beplan. Die evaluering van ‘n kultivar as kwaliteitstandaard word in ontledingsprosedure bepaal en duur verskeie seisoene. Koringlyne wat vir die besproeiingsgebiede bestem is, se evaluering duur minstens twee jaar en lyne vir die noordelike (somerreën) en suidelike (winterreën) droëlandgebiede duur minstens drie jaar. Vóór hierdie evaluering doen saadtelers vroeë generasie seleksies wat ‘n aantal seisoene duur. Vir die voorlopige vrystelling van ‘n besproeiingsteellyn moet ‘n jaar se kwaliteitsdata oor minstens vyf lokaliteite aan die Koringforum se Kultivar- en Tegniese Komitee voorgelê word. Vir die finale vrystelling word ‘n minimum van twee jaar se data oor vyf lokaliteite per jaar vereis. Vir droëlandlyne in die Noordelike en Suidelike produksiegebiede word ‘n minimum van onderskeidelik twee en drie jaar oor vyf lokaliteite vereis.

Ontledings in die laboratorium

Die kwaliteitsontledings word deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium NPC (SAGL) gedoen. ‘n Projekaansoek vir die befondsing van die maal- en bakkwaliteit se ontledings word jaarliks by die Wintergraantrust ingedien. Die kwaliteitseienskappe wat geëvalueer word, wissel van koringeienskappe soos hektolitermassa, valgetal, meelekstraksie en proteïeninhoud tot meeleienskappe, soos kleur, mixogram-piektyd, farinogram-waterabsorpsie, alveogramsterkte en alveogram P/L-waarde. Vir evalueringsdoeleindes word die kwaliteitsnorme verdeel in primêre (P) en sekondêre (S) norme. Die primêre norme is ononderhandelbaar terwyl daar in grensgevalle na die sekondêre norme verwys kan word. Toelaatbare afwykings vir die kwaliteitsnorme van die biologiese standaard word in Tabel 1 aangetoon.

Evaluering en vrystelling van nuwe broodkoringkultivars in die afgelope drie jaar Table 1

Verduidelikende notas:

*1 Valgetalwaardes moet 250 sekondes oorskry en mag nie meer as 15% laer wees as dié van die kwaliteitstandaard nie. 

*2 Kleur word aangesuiwer na 76% ekstraksie op die basis van 0.4 KJ eenhede per 1% ekstraksie. Bv: By ‘n lyn met ‘n ekstraksie van 77% sal 0.4 KJ van die lyn se kleurwaarde afgetrek word. Sou die lyn se ekstraksie 75% wees, sal 0.4 KJ by die lyn se kleurwaarde getel word.

*3 Broodvolume word teen die lyn se proteïenvlak geëvalueer. Vir die aanpassing van die broodvolume van die lyn na dié van die standaard, word 40 cm3 per 1% proteïenverskil gebruik. Bv: Sou ‘n lyn se proteïeninhoud 11.0% en die standaard se proteïeninhoud 12.0% wees, sal 40 cm3 by die lyn se broodvolume getel word. Indien die lyn se proteïeninhoud hoër is as dié van die standaard, sal 40 cm3 vir elke persent proteïenverskil van die lyn se broodvolume afgetrek word.

Tabel 1: Toelaatbare afwykings (toleransies) van die biologiese standaard vir broodkoringteellyne

Proteïeninhoud word hoofsaaklik as maatstaf gebruik om koringkwaliteit te bepaal omdat daar feitlik deurlopend ‘n linêre verband tussen proteïeninhoud en bakkwaliteit voorkom. Terselfdertyd bestaan daar ‘n negatiewe verband tussen opbrengs en proteïeninhoud. Hierdie negatiewe verband is ‘n bepalende faktor wanneer dit by saadteling kom en voorkeur moes dikwels gegee word aan maal- en bakkwaliteit. Komplekse genetiese interaksies kompliseer die genetiese seleksie vir ‘n spesifieke eienskap verder. Tydens ‘n spesiale vergadering van die Tegniese Navorsingskomitee van die Wintergraantrust gedurende Januarie 2016 is besluit dat die toelaatbare afwykings verslap kan word om die weg te baan vir die vrystelling van lyne met hoë opbrengs. Hierdie toegewing is egter slegs van krag indien die lyn onder bespreking ten minste 5% hoër opbrengs lewer as kommersiële kultivars wat tans in daardie gebied verbou word. In Tabel 2 word die toelaatbare afwykings van die biologiese standaard vir teellyne met hoë opbrengs uiteengesit.

Evaluering en vrystelling van nuwe broodkoringkultivars in die afgelope drie jaar Table 2

Verwys na verduidelikende notas by Tabel 1

Tabel 2: Toelaatbare afwykings (toleransies) van die biologiese standaard vir broodkoringteellyne met hoë opbrengs.

Tot dusver was die evaluerings- en vrystellingstelsel van nuwe kultivars in Suid-Afrika baie geslaagd. Dit kan afgelei word uit die kwaliteit van nuwe kultivars wat die afgelope jare in die mark vrygestel en deur produsente geplant is. In die afgelope drie jaar is elf lyne vir die Besproeiingsgebiede vrygestel, drie lyne vir die Suidelike Droëlandproduksiegebiede en sewe lyne vir die Noordelike Droëlandproduksiegebiede (Tabel 3).

Evaluering en vrystelling van nuwe broodkoringkultivars in die afgelope drie jaar Table 3

*Lyne is voorwaardelik goedgekeur vir finale vrystelling as broodkoringkultvars in die gebiede soos aangedui, gebaseer op die aanvaarding van die elektroforese resultate wanneer beskikbaar.

Tabel 3. Broodkoringkultivars gedurende die afgelope drie jaar vrygestel

Tydens die Kultivar- en Tegniese Komitee se vergadering in Mei 2020 is vyf lyne voorwaardelik vir finale vrystelling goedgekeur. Die elektroforetiese suiwerheid van die lyne kon nog nie bevestig word nie, vanweë ‘n oponthoud in laboratoriumontledings by die Universiteit van die Vrystaat as gevolg van die Covid-19 pandemie. Geen probleme met die uiteindelike resultaat word egter voorsien nie en dit behoort slegs ‘n formaliteit te wees. Die dokument waarin die ontledingsprosedure en evaluasienorme vir die vrystelling van broodkoringteellyne in Suid-Afrika beskryf word, is beskikbaar op die SAGL se webwerf by www.sagl.co.za/wheat/industry-information. Die Koringforum se Kultivarlys is ook hier beskikbaar. Beide dié dokumente word jaarliks hersien.

Author:

Jolanda Nortjé

Laboratory Manager, Southern African Grain Laboratory

Quality overview of the 2020 maize crop

A total of 890 composite samples, representing white and yellow maize of each production region, were received and analysed to determine their quality. The samples consisted of 516 white and 374 yellow maize samples.

READ MORE →